Leeg

Sy het in die verlede, net as dit bitter koud is, bewus geword van die groot leemte langs haar. Die hond kan sy lyf van snoet tot stert uitstrek maar haar rug wil nie warm word nie. Die probleem is, deesdae is dit nie net ‘n winters ding nie. Die koue is daar, elke nag. Hy wag vir haar om die dag te kom afsluit. Hy wil die hare op haar arms laat regop staan, nie van passie nie, nee hy het ander planne. Hy wil in haar nek blaas en haar laaste gedagte vul met die alleenheid van die kamer, die huis, die dorp en die wêreld. Hy wil by haar tuis bring dat sy koue haar gaan oorneem, in haar are gaan vloei en haar hart gaan besit. Sy kan hom hoor voor sy gaan slaap. Sy koue asem wat woorde soos ‘n huur glas op haar laat uitloop. Jou tyd raak min, ons gaan een word en jou hart gaan altyd in die winters wêreld wandel. Jy gaan dan verewig in die kloue van alleen wees. Vul my plek, maak jou bed weer vol voor jou hart vol winter loop.

 

2 Comments

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui