Smack, Crakle en POP

Sy word nie kwaad nie. Dit is moontlik die probleem. Dit is verseker die oorsaak. Die rede hoekom sy nou sit waar sy sit. Te veel fokken sluk. Alles sit dik in haar keel en oor die jare gaan niks meer af nie. Dit hang net uit tussen haar mond en haar brein. Verdik. Opgestop.

Sy het geweet dit gaan net een laaste stamp vat. Nie noodwendig ‘n harde stamp nie en dit was nie. Dit was net ‘n boks pap. Rice fokken crispy’s. Sy was in daai oomblik weg in ‘n wêreld van stomp gevoelens. In ‘n wêreld waar haar dade op autopilot is. Vasgevang in gedagtes wat nie sin maak nie, gedagtes oor wat was en wat kom en ook soos dit nou lyk gedagtes wat net met onrealistiese drome versier word.

Een aksie en sy sien die realiteit om haar. Elke dag word die boks Rice Crispies uitgehaal in ‘n egalige aksie. Sy kyk nie eers waar die boks is nie. Haar linker hand maak die kas oop en haar regterhand gryp die boks. Niks dramaties nie, net outomaties soos al die ander aksies in haar lewe. Staan op, drink water, laat die hond uit, sit die ketel aan, maak die kinders wakker, haal die fokken Rice Crispies uit. Outomaties, slaap, werk, slaap, werk en tussen alles die onrealistiese verdwyn in ‘n wêreld wat nooit sal bestaan nie. ‘n Wêreld sonder haglike roetine, ‘n wêreld met passie, liefde, seks en tyd, genoeg tyd…maar nie vandag nie.

Die droom gedagte is gebreek deur die realiteit van haar onsuksesvolle greep. Die Rice Crispies. Honderde smack crakles en pops lê op die grond. Haar aandag is sopas geruk in die nou, in die oomblik. Daar is nie satyn lakens en bediendes wat tee aandra nie, net die realiteit van elke dag survive in ‘n wêreld wat bedoel is vir mense met geld. Vir mense met status, planne, doelwitte en sy, wat nie daar inpas nie, sy wat net wil elke dag wil survive.

Nou sit sy, op die grond, tussen die smack crakles en pops. Die stamp is gestamp, sy is nie gelukkig nie. Sy het probeer glo sy is, maar sy is nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui