Vergeet my nie

Die klanke van Samuel Barber se Adagio for stings vleg ritmies saam met elke draai, elke konkel en elke moeitelose beweging van Adriana se kar. Die pad is nou al ‘n ou bekende vriend wat vir meer as ’n jaar, elke oggend homself voor haar uitstrek. Haar gedagtes vestig alleenlik op haar destinasie wanneer sy die kliniek se bord aan die linkerkant van die pad sien. Tot daar wyer sy om die daaglikse roetine met twyfel, hartseer en opgehoopte pyn te begin. Sy fokus eerder op Frans wat haar ondersteun ten spyte van sy rooiwyn eerlikheid wat so nou en dan iets laat uitglip. “Jy mors jou tyd Sunshine, gee dit eerder vir die beautiful goed in die wêreld.” Woorde wat gewoonlik in die nugter oggend ’n skaam man se geheue verlies word.

Vanoggend voel anders. Dit kan dalk die klasieke klanke in die kar wees of selfs die undying optimis in haar wat weer na gister begin ontwaak het. Wat ook al dit is, die afdraaipad na die kliniek bring vandag vir haar meer heimwee as hartseer. Dit is asof die wilgerbome wat soos soldate langs die oprit staan, vir haar ’n welkom dans doen. Vir die eerste keer vang die asemrowende beelde haar vas in ‘n ou gedagte.

Sy en Emily het ure onder by die rivier hulle tyd aan dagdroom en verbeeldings spel spandeer. Die groot wilgerboom was hulle bedehuis. Hulle het prinses krone gevleg, die takke was Tarzan swings en ook swepe vir Indiana Jones avonture. Daar het hulle ‘n band gebou wat sterker was as die stam en wortels van die reuse boom. Hulle het hom Adam genoem. Die boom was hulle beskikking teen die son, hulle droom vanger wat oor hulle waak terwyl hulle onder hom geslaap het.  Geen geheim wat teen sy stam gefluister was, is ooit herhaal nie. Adam het altyd tyd gehad vir hulle, geduld gehad en nooit het hulle onveilig gevoel terwyl hulle op sy skouer die wêreld bekyk het nie.

Adriana skakel haar kar af en soos gewoonlik is die parkeer area hierdie tyd van die oggend leeg. Haar hart verlang na Emily. Sy wens sy kon haar bel en haar heimwee met haar deel maar dit is een uur in die oggend in Toronto. Sy glo nie sy sal ‘n oproep waardeer wat moontlik vir klein Kayla gaan wakker maak nie. Slaap is vir ‘n nuwe ma so skaars soos ‘n effektiewe politikus. Sy maak haar kar deur oop maar klim nie dadelik uit nie. In haar binneste voel dit soos die laaste keer. Sy het nie meer genoeg in haar om hierdie pad elke dag te stap nie. Om elke dag so te begin. Dalk moet dit eindig ten spyte van die hoop in haar hart. Die “fools hope” soos gedoop deur Frans.

Sy kyk eers vinnig na haarself in die truspieël en haar groen oë staar vreesloos terug. Met een grasieuse beweging klim sy uit. Sy het ’n stylvolle swart broek aan met ’n wit satyn bloes. Dit is glad nie Adriana se styl nie maar dit is een van die baie dinge wat haar “fools hope” haar laat doen. Haar dik bos hare hang oor haar skouers en die son reflekteer die rooi wat sy al soveel keer probeer weg kleur het. Sy stap om na die kar se agter kajuit en haal ‘n aktetas en ’n stylvolle swart baadjie uit. Sy drapeer die baadjie oor haar arm en net voor sy die kar sluit neem sy Santie se Wimpy koffie uit die kar se beker houer.
Die deure van die ingangsportaal gly saggies oop en die stilte van die kliniek suis in haar ore. Dit is asof mens dadelik jou volume op twee sit as jy instap. Hier word daar saggies gefluister want die Grim Reaper kan jou dalk net hoor. Nog een van Frans se snaakse observasies.

Soos gewoonlik staan Santie by die toonbank. Adriana groet haar saggies en sit die koffie voor haar neer. Sy wag oudergewoonte vir haar daaglikse verslag.

“Môre Adriana. Sy het ‘n goeie nag gehad. Sy is wakker en baie opgewek vanoggend.”
Santie vat ’n vinnige slukkie. “Jy bederf my vriendin maar ek gaan nie klae nie, die plek se koffie is bitter soos gal.”

“Wie verwag sy vandag Santie?”

Sy kyk met sagmoedigheid na Adriana “Ek is jammer, sy verwag vir Bianca maar moet nie dit as ‘n negatief sien nie, ten minste is sy wakker en sy sal kan kommunikeer. ”

Adriana kyk woordeloos na Santie en gee haar hand ’n drukkie. Sy sit die aktetas neer langs haar en trek haar swart baadjie aan. Sy loop tot by die voorportaal se spieël, haal ‘n haarknip uit die baadjie sak uit en bind vinnig haar hare vas in ‘n ballerina bolla. Sy kyk vir ’n laaste keer na haar eie weerkaatsing en neem ’n groot moed-skep-asem in. Met die asem uitblaas gryp sy weer die aktetas en loop in die lang gang af na kamer ses toe. Sy klop soos gewoonlik aan die deur en stap in sonder om te wag vir ’n reaksie van binne.

Die kamer is een van die elite kamers in die kliniek. Die oggend son stroom in deur die groot vensters wat uitkyk op Franschhoek se bergreeks. Heleen sit regop in haar bed wat bedek is met foto’s wat sy een vir een fyn besigtig. Reg oorkant haar bed is ‘n sitkamer met ‘n groot koffietafel in die senter. Adriana loop reguit na die rusbank wat gevul is met son en sit die aktetas op die tafel neer.

“Môre Heleen, het jy ’n goeie nag gehad?” vrae sy terwyl sy die aktetas oopmaak.

“So goed soos wat mens in die plek kan hê. Het jy die Oktober uitgawe se voorlopige uitleg gebring?” vrae sy sonder om in Adriana se rigting te kyk.

“Natuurlik.” Sy staan op en sit die lêer neer op Heleen se bed soos soveel kere tevore.

Heleen draai een van die foto’s na Adriana se aansig en kyk haar stip in die oë. “Wat dink jy? Is hierdie nie dalk ‘n beter opsie vir die voorblad nie?”
Adriana is vasgevang in Heleen se dowwe blou oë en in hierdie rare oomblik soek sy vir herkenning.

“Die foto Bianca, kyk na die foto. Wat gaan nou weer vanoggend met jou aan? Het jy nou weer ‘n laatnag gehad?”
Die feit dat Heleen haar Bianca noem bevestig vir haar dat daar geen herkenning gaan wees nie.

“Jammer Heleen, ek is maar net bekommerd oor jou gesondheid. Die hele redaksie span dink aan jou en wens jou ’n spoedige herstel.’

Heleen laat sak die foto en kyk vervies na Adriana. “Gatkruipers, dit is al wat hulle is. Jy is jonk, jy sal nog leer. In elk geval is hierdie kamstige siekte wat ek het, net tydmors. Ek boek myself sommer vanmiddag uit.”
Adriana vat die foto by Heleen. Dit is ‘n Kevin Carter foto wat in die 1984 in die Johannesburg Star gepubliseer was.

Heleen deel dadelik haar opinie terwyl Adriana soos gewoonlik met geduld luister. “Hierdie fotograaf het baie guts, die vraag is of ons die guts het om die foto op die voorblad te sit. Ek dink dit is tyd Bianca, dit is tyd dat hierdie land besef wat werklik aangaan. Dit is tyd dat ons ware joernaliste word en ophou toelaat dat vrees ons keer. Die buiteland hou ons dop.”

Hierdie is die laaste keer. Sy kan nie dit verder uitstel nie. Sy moet vandag vir Heleen vertel. Dit is tyd dat haar eie vrese eenkant gesit word.

“Ek is swanger.” Adriana se woorde kom harder uit as wat sy beplan het. Die volume is duidelik genoeg vir Frans se Reaper om te hoor.
“Jy is swanger?” Heleen kyk met teleurstelling na Adriana. “Die eerste keer in jare wat ek iemand het wat my kan verdrae en jy gaan staan en word swanger. Wat het ek vir jou gesê Bianca? Wat was my eerste woorde aan jou?”
Adriana het geen idee wat Heleen van praat nie. Bianca is net ‘n rol wat sy speel. ‘n Rol van ‘n ou assistent van Heleen. ‘n Junior joernalis wat 30 jaar gelede vir haar gewerk het.

Sy raai haar reaksie, “Dat die werk eerste kom?”

“Die werk? Nee my skat jou passie, dit is wat eerste moet kom. Dit is nie ‘n werk nie, dit is ’n roeping, ’n passie kreet wat jy beantwoord. Daar is nie tyd vir kinders nie. Nie in vandag se tyd nie, nie in hierdie stormagtige land nie. Ek sal nie so maklik my passie vir nappies verruil nie.”

Adriana kan nie die trane keer nie. Sy het haar verloor. Dit weet sy nou. Haar moeder is weg. Verlore in hierdie koue joernalis. Voor haar sit ‘n mens vasgevang in ‘n tyd wat nie ‘n rooi kop, groen oog kind insluit nie.
Sy weet sy gaan nie die herkenning kry wat sy na hunker nie maar tog hoop sy dat die vrou voor haar vir ’n oomblik kan besef wie sy is. Dat sy weer die warm kant van Heleen kan sien. Die kant wat vir haar en Emily die wilgerboom gewys het. Die kant wat vir haar tweeling dogters, wat so onverwags in haar lewe ingekom het, die wêreld gegee het.

“Stop die tranedal vir net een oomblik, ek is nie kwaad vir jou nie ek is net teleurgesteld. Ek het seker maar meer verwag. Ek verstaan dat almal nie so ou harde suurlemoen soos ek is nie. Wie is die Pa?”

“Sy naam is Frans. Hy is ’n goeie man Heleen.” Adriana vat Heleen se hand wat nog een van Kevin Carter se ander foto’s vashou. Haar hand is sag en warm en die lewensjare se diep voue lewer bewys van haar volharding in alles.
Heleen se eerste reaksie is om haar hand terug te trek maar Adriana behou haar greep.

“Heleen, ek moet nou gaan. Ek kan nie mee elke dag inkom nie. Beskou hierdie as my bedanking. Ek sal nog van tyd tot tyd kom inloer en ek belowe jou dat ek tot die einde by jou sal staan maar vir nou, moet ek groet.”
Heleen kyk verwarrend na Adriana. Haar woorde dryf rond in haar gebroke gedagtes. Sy plaas haar ander hand bo-op Adriana sin en glimlag.

“Ek verstaan.” Sy breek die kontak en tel die Oktober proef uitgawe op.

Adriana vee haar trane af en gaan haal haar aktetas. “Totsiens Heleen.” Groet sy en loop na die deur toe.

“Adriana?” Sy vries en reageer met haar rug na Heleen toe. “Ja, Heleen”

“Jy gaan ’n ongelooflike ma wees.”

Sonder reaksie loop sy uit kamer ses uit. Sy glimlag. Wat sy wou sê het sy gesê. Wat sy wou deel het sy gedeel.
Santie staan saam met Wilma by ontvangs terwyl Adriana uitstap.

“Adriana, ek wil iemand aan jou voorstel. Haar naam is Wilma. Sy gaan uithelp terwyl ek op verlof is.” sê sy toe sy haar sien aankom.

“Wilma, hierdie is Adriana en haar moeder is in kamer ses. Sy is Heleen Swieggers. Jy weet mos daai famous joernalis van die tagtigs waarvan ek jou vertel het. Adriana kom kuier elke oggend vir haar en…”
Adriana val vir Santie in die rede. “Nie meer nie. Ek sal julle Sondag sien saam met Frans. Goed om jou te ontmoet Wilma. Santie geniet jou verlof”
Adriana maak haar hare los en verdwyn uit die kliniek uit.
Santie draai na Wilma toe. “Alzheimer’s is ’n lelike ding Wilma. Dit vreet gesinne se bestaan op. Mev. Swieggers kan glad nie haar tweeling dogters onthou nie. Party dae lewe sy in die tagtigs en sy dink hierdie is ’n gewone hospitaal. Ander dae is sy net ’n leë dop wat die lewe met verwarring aanstaar. Adriana en Emily het haar ’n jaar terug hier kom inboek toe sy hulle nie meer herken het nie. Emily het aangegaan met haar lewe in Kanada maar Adriana soek nog elke dag haar moeder. Iets groots moes gebeur het dat sy nou ewe skielik ophou soek het. Vader weet alleen wat.”

In kamer ses, nog sittend op haar bed kyk Heleen se dowwe blou oë opgewonde na die proef uitgawe van Oktober 1984. Hierdie gaan ’n goeie uitgawe wees. Hierdie is ’n goeie dag.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui