Laaste asem vir jou hart

die aand speel op sy laaste snaar
ek sit regop
met ken op knieë
en hou jou dop

jou slapende lyf lê weer skuins
met ‘n taal van dominansie
oor die gevlekte matras

ek luister na jou tweedehandse asem
en hoor die pynkreet van duisende verborge siele
wat deur jou tong verpletter word

jou hand val uit jou donker drome uit
en raak sonder doel aan my vlees
en die swart gloed van walg
sny deur die laaste bietjie van my gees

selfs in jou oomblik van stilte
kan ek hom in jou sien
daar waar hy vir jou fluister
hoe om siele te verkalk

maar môre is amper hier
en alles wat ek vir jou voel
wag in jou laaste spuitnaald fix
die een met die klein lig borrel
die laaste asem vir jou hart

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui