Straatkafee

ek ontmoet jou in my drome
by ‘n straatkafee
‘n verbeeldinglose plek
ver van die strate van Parys

die wind dans om ons tafel
wat die koue laat sak
in die holte van my hart

jou woorde is omgekeerd
verdraaid in my droom se klank
tog maak dit nou meer sin
sonder die masker van realiteit

jou hande lyk skurf
omgevou oor hare
terwyl jou woorde na my toe maal

ek is verlief oor jou

ek kyk af
en sien my hande op my skoot
opgefrommel
in wit kneukels

ek is verlief op jou

ek kyk op
en sien jou woorde
heuning
om haar ore

ek kyk na haar
en sien haar,
ek sien haar
in my drome
by ‘n straatkafee
ver van die strate van Parys
‘n verbeeldinglose plek

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui